In Hebreers (Heb. 11:27)word Moses beskryf as die seun van ’n man uit die stam van Levi wat met ’n ‘Levitiese meisie’ getroud was.
Die vraag wat ontstaan is waarom Moses se ouers in hierdie vers ongenoemd hanteer word? Dit kon moontlik wees dat tradisionele Joods-Christelike denke hieraan gevolg gegee het, daarom kyk ons hoe die ware doelstelling van die openbaringsgeskiedenis uit die Skrif self duidelik sal word.
Ons lees onder andere dat Moses na sy opvoeding in die paleise van Egipte, hierdie bedekte verwysing na sy ouers wenslik geag het. Veral omdat hy vir sy lewe moes vlug en die wraak van farao te wagte was. Die verhouding tussen die Egiptenare en Israeliete was op daardie stadium uiters gespanne, meer as ooit tevore. Dit is duidelik dat Moses die klem wou lê op die Levietskap van sy ouers, vader en moeder, eerder as om hulle aan die wraak van die Egiptiese vorstehuis bloot te stel.
Veeherders
Maar die Boek Eksodus hou ons nie heeltyd in die duister nie. Die minagting, eie aan die ‘Egiptiese beskawing’ vir die veeherder-bevolkings (nomade) blyk uit ’n argeologiese waarneming dat skaars kennis geneem was van die essensie van die Israeliete se leefstyl en kultiese gebruike.
Moses was na vlugtelingskap van 40 jaar in die woestyn van Midian nie baie geneë om hom as leier van die volk te gaan aanbied nie. Toe sy broer Aäron, ook ’n Leviet, as sy helper aangewys word, sien hy kans – maar hy bewapen hom met die gesag van sý en Aäron se levitiese status.
Levitiese afkoms
Om vir die volk as leiers aanvaarbaar te wees, moes hulle voorgangerstatus bekend wees. Egipte was ’n uitgestrekte, groot land en nie alle nasate van Levi, was na 400 jaar in Egipte bekend nie. Moses het dit as verskoning opgehaal: ‘nie eers Israeliete luister na hom nie, hoe sal die farao tog nou na hom luister? Die oplossing sou wees om hom op sy levitiese afkoms te beroep – daarom is die afkomsregister in die verhaal gevoeg om sy en Aäron se levietestatus aan te toon.
In Eksodus 6 verse 20 en 26, lyk dit inderdaad na ’n openbare bekendstelling van hulle levitiese legitimiteit. Dit maak groot sin, want nie alle Leviete was so lank as Moses uit die land afwesig nie. Die rede, daarom die uitvoerige verwysing na die ‘Levieteskap’ van sy ouers wat as aanduiding moet dien van die rol wat die ‘profane’ stamnaam: ‘Liviete,’ (Eks.2:1), in hierdie besondere geval van Amram en Jogebed (Eks.6 verse 17 en 19), –wat in die laaste jare van die eeuelange Egiptiese verblyf as geestelike voorgangers onder die verdrukte volk in Egipte ’n rol gespeel het. Hulle was immers die manne by die ‘vleispotte van Egipte’ (Eks.16:3,) wat dien as bybelse bevestiging dat nié net in die laaste jare van Egiptiese slawerny nie, hulle deurgaans gedurende die 4 eeue as Leviete hulle geestelike pligte, die wette van God (Torah), die Verbonde met die aartsvaders, aan die volk tydens gemeentemaaltye voorgehou het (samekomste van die kĕhal Jahwe).
Lees die Boek Levitikus om hulle uitgebreide rolle as voorgangers te verstaan. Moses het as Leviet met sy volksgenote kontak behou (Eks.2:11), al was hy ’n aangenome ‘prins’ in die paleise van die farao’s. Amram en sy seuns, Moses en Aäron, was agter-agter-agter kleinkinders van Jakob,– wat 400 jaar tevore met sy familie van 70 siele in Egipte gaan woon het, onder wie Levi, die derde seun van Jakob was.
Dit het deur die Here se beskikking so gekom dat Levi, wat dan Amram en Moses se groot-groot-voorvader was, die geestelike seën aan aartsvader Jakob – die nuwe naam ‘Israel’ – 4 eeue tevore toegeken (Gen. 32:26-28), moes instandhou. Mens is nie altyd daarvan bewus dat die Leviete 4 eeue lank in die bewaring van Israel se geloof ’n rol gespeel het nie.
Dit is hoe dit gekom het dat die hele volk voorberei was om onder leiding van Moses die Paaslam te slag en bloed aan die kosyne te smeer! Dat die Egiptenare argeloos was en hulle nie aan die Israeliete se lamsbloed aan kosyne gesteur het nie, word ook argeologies bevestig as die Franse Ou-Testamentikus, R De Vaux, meld dat die Egiptenare hulle eintlik ook nie aan die Israeliete se levitiese priesterskap gesteur het nie – slegs net één argeologiese verwysing [1] – terwyl Moses in die woestyn Midian geskuil het, was Amram (sy vader met ondersteuning van Jogebed, sy moeder) steeds aan diens!
Amram
Amram se naam kom weer voor in die Boek Kronieke (1 Kron. 6:2-3, 31-38 – genoem tussen die levitiese sangers en dat hy moontlik ’n voormalige ’n Psalmdigter was).[2] Terugskouend, word Amram oor ’n duisend jaar heen (Kronieke-boek) in herinnering gebring en vereer as nakomeling, deur vele voorgeslagte heen, tot en met die stamvader, Levi.
Levi, die derde seun van ‘Israel’ – geestelike oordraer van Jakob se ‘nuwe naam,’ Gen.32:28 – die aartsvader en sy nageslag, word toegerus as ‘gemeente van God’ om hulle geloof in Egipte te behou. Lees ook Hosea 9:10 om God se voorsorg teen afvalligheid in so ’n heidense omgewing te verstaan; en wanneer jy die boek Levitikus lees, hou dan die onbesonge geskiedenis van Amram en sy geesgenote se prediking in gedagte, – ‘Wees heilig, want Ek is heilig,’ (kom drie keer voor in Lev. 19,20,21) — ’n Leviet se beskeie verhaal van geloof behou in ’n afvallig-heidense omgewing!
Wat aandui dat ek en jy ook die ‘gemeente van die Here,’ die wáre ‘Israel,’ nodig het om geestelik staande te bly.
[1] De Vaux R. Hoe het oude Israel leefde, deel II, Roermond-Maaseik, 1962, bl. 238
[2] Vriezen Th. C. en van der Woude A.S, De Literatuur van Oud-Israel, Sevire/Wassenaar, 1973, bl.372.